Frank,
Dankie vir jou vriendelike en volledige reaksie op dít wat ek gister geskryf het.
Ons is besig met navorsing oor die voorsate van Hendrik Venter, en dit wil voorkom of daar in die verlede vergissings kon gewees het. Tot dusver is die volgende aanhaling uit 'n artikel in 'Familia' 43 (2) 2006, p. 36, as korrek aanvaar:
"Die stamvader van alle Suid-Afrikaanse Venters, Heinrich van Deventer, word in 1550 in Oldenzee (Oldenzaal) gebore. Teen 1570 vlug hy na Hildesheim in Duitsland, vanweë die wrede vervolgings van die hertog van Alva. In Nederland was hy as Hendrik van Deventer bekend, maar in Duitsland is die van na Von Dempter verander."
Maja is besig om navorsing te doen om die juistheid van hierdie stelling te bepaal. Sy wil in Oldenzaal en in Hamelen gaan kyk wat sy daar kan vind. Jou transkripsie is uiteraard baie waardevol vir ons in verband met hierdie navorsing, en ek is bly dat jy dit gepubliseer het.
Ek dink nie dat die kind wat in 1654 gebore is die Hendrik is na wie ons soek nie - eenvoudig omdat hy in 1683 waarskynlik te oud sou gewees het om as 'soldaat' deur die VOC in diens geneem te gewees het. (Ek mag dalk verkeerd wees).
Ek sal bly wees as jy vir my kan uitvind wat die betekenis is van 'Venterink', soos dit weergegee word op die webtuiste vlgs. die skakel ('link') wat jy vermeld. My e-posadres is: pr.venter@telkomsa.net
Intessantheidshalwe - in die boek van J.D.A. Krige, "Oorsprong en Betekenis van Nederlandse en Duitse Familiename in die 'Geslacht-Register der Oude Kaapsche Familiën' " (J.L. van Schaik, Pretoria, 1934) staan daar die volgende oor die betekenis van die familienaam 'Venter':
Venter - stvdr.van Hameln; ndl. venter (= hawker, pedlar) kom dus wel nie in aanmerking . Moontlik van 'n nog onverklaarde stam fant (odn. fantr = gogelaar?); egter ook verband met 'vent' (fendt) d.i. krygsman te voet: Fandt, Fanter, Vent, Vente, ens. (Go.).
Die afkortings - odn. staan vir Oud-Noors, en Go. staan vir Goties.
Dis vir my interessant dat jy die vlg. sê: "In die tijd droegen mensen vnl. germaanse namen die uit twee componenten bestaan". Wel, 'n mens sou seker kon sê dat dit in ooreenstemming kan wees met die verklaring wat hierbo aangehaal word. Die ou Noorweërs en die Gote was Noord-Germane.
Daar is reeds bepaal dat die Suid-Afrikaanse Venters tot die Y-DNA haplogroep R1a1 behoort. Ons sal graag wil vasstel wat die haplotipe is van die Nederlandse en Suid-Afrikaanse Van Deventers. Voorlopige aanduidings (met min gegewens) is dat hulle R1b1's kan wees. Vanwaar dan die haplotipe van die SA Venters? R1a1 word grotendeels gevind in Pole en ander Slawiese lande en is ook in 'n mindere mate die haplotipe van mans van die sentrale gedeelte van Noorweë. Daar is ook aanduidings dat heelwat van die Saksers R1a1's kon gewees het, en is Oldenzaal nie juis geleë in die Saksiese gebied nie?
Dit alles laat my wonder of my SA stamvader nie juis 'n 'Venterink' kon gewees het nie! 
Dit lyk vir my taamlik onwaarskynlik dat hy van Van Deventers kon afgestam het, maar ons wag vir die publikasie van die boek: "Zonen van Adam in Nederland".
h.g.
Piet Venter